deur arbeid bereik jy jou einddoel

                                       

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Boodskap van Skoolhoof

Daar is 'n spreekwoord wat sê " Ons keuses, eerder as ons vermoëns, wys wie ons werklik is". Die Woord van God is vol van voorbeelde: Moses, Josua en talle ander het vir ons getoon dat deur die regte keuse te maak, daar soveel seën op ons eie, asook die mense rondom ons se lewens sal wees.

Watter keuse wag vir ons in die nuwe jaar? Is dit nie die jaar om BETROKKENHEID ons prioriteit te maak nie?

Betrokkenheid impliseer nie net om u eie kind se sportwedstryde by te woon en skoolgeld te betaal nie, maar veel meer as dit.

Raak opnuut betrokke by u kind se ontwikkeling op geestelike vlak in 2008. Gaan ek dit aan die kerk en die skool oorlaat om hom/haar in hierdie jaar nader na God te lei, of gaan ek deur my optrede 'n voorbeeld wees van hoe die Here gedien moet word?

Wees betrokke en sterk die skool se hande in die uiters moeilike taak van dissipline en verseker sodoende dat ons kinders se kleredrag, voorkoms en optrede Hoërskool Henennman se beeld positief na buite dra.

Daar is ongelooflik potensiaal in die leerders van Hoërskool Henennman. Dit is ons. as personeel, se missie in 2008 om hierdie potensiaal tot volle wasdom te laat kom. Wat gaan u deel wees aan hierdie ongelooflike geleentheid? Daar is niks in die lewe meer bevredigend nie as om deel te hê aan die groeiproses van 'n tiener tot 'n selfstandige volwassene wat sy plek in die lewe volstaan. Ons kan almal deel hê daaraan! Ons kinders het in hierdie tye AL die rolspelers nodig - ouers, skoolpersoneel, kerk en vriende wat betrokke is en wil wees!

'n Dinamiese skool wat deur u betrokkenheid tot nuwe hoogtes aangevuur word, verseker dat die gemeenskap en besighede in Hennenman in totaliteit voordeel sal trek.

Mag ons keuse in 2008 ons kinders wees!

WEES BETROKKE

Nico Pretorius